In Lied vir Sarah, Jansen se persoonlikste en mees intieme boek tot op
hede, daag Suid-Afrika se geliefde professor die stereotipes en stigma
uit wat so maklik op Kaapse Vlakte-ma's van toepassing gemaak word as
luidrugtig, wellustig en sonder tande - en bied hy dié deernisvolle
verhaal aan as 'n lofsang vir ma's oral wat op moeilike plekke gesinne
moet grootmaak en gemeenskappe moet bou. As jong man het Jansen gewonder
hoe ma's dit regkry om kinders onder moeilike omstandighede groot te
maak - en toe besef die antwoord is reg voor hom in die vorm van Sarah
Jansen, sy eie ma. Deur haar vroeë lewe in Montagu en die gevolge van
apartheid se gedwonge verskuiwings na te speur, werp Jansen lig op hoe
sterk vroue nie slegs daarin geslaag het om gesinne bymekaar te hou nie,
maar hulle kinders ook met integriteit groot te maak. Met sy kenmerkende
fynsinnigheid, humor en eerlikheid, volg Jansen sy ma se lewensverhaal
as 'n jong verpleegster en ma van vyf kinders, en wys hy hoe dié ma's
hulle verlede verwerk het, hulle huise ingerig het, sin gemaak het van
die politiek, die liefde bestuur en kernwaardes gekommunikeer het - hoe
hulle hulle lewens gelei het. Om sy eie herinneringe te balanseer, het
Jansen hom op sy suster, Naomi, beroep om haar eie insigte en
herinneringe te deel, en daardeur spesiale waarde tot hierdie roerende
memoir toe te voeg.